Durbanville Wynvallei se nuwe lede
Die Durbanville Wynvallei Assosiasie het drie nuwe plase in hul midde verwelkom, De Vallei Boutique Wyne, Phizante Kraal Wyne en Klein Roosboom.
“Nou kan ons ’n 12-bottel kis wyn volmaak met een bottel elk van al ons lede!” lag Martin Moore, keldermeester van Durbanville Hills, wat saam met Nitida, Meerendal, Hillcrest, Durbanville Hills, Diemersdal, De Grendel, D’Aria, Bloemendal en Altydgedacht, die Durbanville Wynvallei Assosiasie uitmaak.
Die nuwelinge was die middelpunt van belangstelling by die sesde jaarlikse Seisoen van Sauvignon, wat 'n ruk gelede in die Durbanville-wynvallei gehou is, om die begin van die wit wyn seisoen in te lui en om die 2010-oesjaar van die vallei se ster wit variëteite te vier.
“Alhoewel hulle nuwelinge tot die assosiasie is, is hul bydrae tot die vallei se goeie reputasie as ’n top wynproduserende streek lank reeds gevestig,” voeg Righard Theron, die assosiasie se voorsiiter, by.
Al drie plase en die families aan wie die plase behoort, het lang wynmaak-geskiedenisse in die Durbanville-streek, wat oor verskeie generasies strek. Wingerd is deel van die landbou-samestelling (saam met koring en beeste) sedert die begindae van die nedersetting in die 1700’s. Teen die tweede helfte van die 20ste eeu, het plaaslike druifproduseerders reeds topgehalte vrugte en wyn aan die Kaap se groot wynproduserende groothandelaars, vir van hul bekendste wyn handelsmerke, gelewer.
Twee van hierdie plase, nasate van die De Villiers-familie van De Vallei en Klein Roosboom; en die Brinks van Groot Phesantekraal, het nou begin om hul eie wyn onder hul eie etiket te bottel. Hulle het ook nou hul kelderdeure vir wynliefhebbers oopgegooi en bied wynproeë en -verkope aan.
Die De Villiers-familie het, as deel van die golf Franse Hugenote wat in 1866 aan die Kaap geland het, in die vallei aangekom om Katolieke vervolging van Protestante in hul geboorteland vry te spring. Die 11de geslag boer tans op die Durbanville grond.