Friday 19 September 2014
Home / News / Aksieplan kom vir treine

’n Aksieplan om die ernstige probleme met Metrorail in die Skiereiland op te los, gaan vandeesweek voltooi word.

Dit volg op Vrydag se beraad oor treindienste in Kaapstad.

Mnr. Lucky Montana, uitvoerende hoof van die Passasiersagentskap van Suid-Afrika (Prasa), het op dié beraad beken die treindienste verval. Hy het ook gesê van die treinwaens is veertig jaar oud.

Mnr. Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, paaie en stormwater, het gister gesê die dag-vir-dag-bestuur van die treindienste moet nie verwar word met die ouderdom van treine nie.

“Ons praat van behoorlike toegangsbeheer om te voorkom dat treine oorvol word. Ons wil met Prasa en Metrorail saamwerk om so gou moontlik toegangsbeheer te verbeter.”

Herron het gesê: “Daar is geen rede waarom toegangsbeheer nie dadelik beter bestuur kan word nie. Daar is geen rede waarom dit tot later moet wag nie. Ons moet die kwessies van nuwe kapitale belegging en die operasionale bestuur van treindienste van mekaar onderskei. Die aksieplan gaan dié week voltooi wees en later in die week met Montana bespreek word. Dit is die begin van die dialoog om die korttermynprobleme op te los.”

Me. Patricia de Lille, burgemeester, het op die beraad gesê sy het verlede jaar by ’n gesin op Atlantis gebly om self te ervaar hoe dit is om openbare vervoer te gebruik.

“’n Mens staan 04:00 op om betyds by die werk te kom. ’n Mens los jou kinders agter, en kom eers weer laataand tuis. Die probleem was egter nie die vroeg opstaan en die pyn om kinders agter te laat nie. Daar was die moontlikheid van vertragings by die bushalte en stukkende busse, asook die moontlikheid om nie die regte taxi- of treinaansluiting te haal nie. Ek het dit net een keer ervaar, maar dit is die daaglikse ervaring van honderd duisende mense in Kaapstad,” het De Lille gesê.

- Die Burger

 

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom