Wednesday 30 July 2014
MESSE MESMERISEER
2012-05-10 14:28
MESSE MESMERISEER
Louise Groenewald - Smulpaap
Posted By:

As jy n ernstige kok is en nie n ordentlike kombuismes of dan koksmes in jou besit het nie, is jy of in die tronk of jou man se vorige meisie het jou trougeskenklys gesaboteer.

Omdat ‘n ordentlike mes nie goedkoop is nie, word dit nie gewoonlik op die normale kombuistee saam met die tequila shots uitgedeel nie. Dis ‘n essensiële stukkie kombuisgereedskap waarvoor jy liefs moet spaar en met tyd moet bekom.


Alhoewel dit ‘n wonderlike idee is om dit op jou trougeskenklys te sit en ryk familielede se arm so te draai, is dit tog beter om dit self uit te soek. Die minuut as ‘n mes van inbors sy lê in jou hand gekry het sal jy weet, dis soos om ‘n goeie vriend se hand te skud. As jy dit begin gebruik sal jou eerste gedagte wees: "Hoe op aarde het ek al die jare sonder dit klaargekom?" Dis ook 'n feit dat jy jouself makliker en meer gereeld beseer met 'n stomp mes of 'n mes wat nie bedoel is vir die doel waarvoor jy dit gebruik nie.


Geen sjef sal sy kombuis beman sonder ‘n stel goeie, goed versorgde en skep messe nie. Die goeie nuus is dat ons gewone huiskokke nie ‘n hele koffer vol messe nodig het om ons daaglikse take in die kombuis te kan verrig nie. Ek besit wel ‘n hele reeks messe wat elkeen ‘n spesifieke doel het, maar vind dat ek net twee van die messe gereeld gebruik.  


Behalwe ‘n goeie stel potte is ‘n duursame mes of twee die beste belegging in jou kombuis. Gaan na ‘n winkel wat kombuisartikels van ‘n hoë gehalte verkoop. Nie ‘n winkel wat se naam aandui dat hulle “crazy” is nie. Vra dat die verkoopsassistent die messe vir jou uit die vertoonkassie haal. Baie winkels hou dit agter slot en grendel om veiligheidsredes. Hou dit vas soos jy daarmee sal sny, balanseer dit in jou hand, en voel ook of die mes nie te swaar voel vir jou nie. Dit is persoonlike smaak wat vir jou reg en goed voel, jy sal weet as jy gemaklik is met jou keuse.


‘n Goeie keuse is om ‘n algemene koksmes te koop. Dit het ‘n medium lengte lem (omtrent 20 cm) en kan vir alles van vrugte, groente tot vis en vleis gebruik word. Dis geskik vir sny, kerf en kap sowel as om bv. groente in klein blokkies sny.


Reg, jy het nou ‘n mes in jou sak en voel tuis in die Kaap.


Die volgende is die twee belangrikste punte om te onthou as dit by die versorging van jou messe kom:




  • Moenie op glas, marmer of klip met jou messe sny nie, dit sal die lem stomp maak en ook beskadig. Gebruik ‘n sny-oppervlak wat van hout of plastiek gemaak is, iets wat kan meegee soos plastiek of hout is die heel beste sny-oppervlaktes om jou mes se lewe te verleng. Maak jou messe gereeld skerp op ‘n goeie kwaliteit slypsteen.




  • Moenie jou messe saam met jou ander kombuisgereedskap in die laai gooi nie. Bêre dit in ‘n ander laai, apart toegedraai, in ‘n messkede of in ‘n houtblok wat spesiaal vir jou messe gemaak is. Omdat ek te veel Amerikaanse rillerflieks kyk bêre ek nié my messe in ‘n houtblok op die kombuistoonbank nie, maar wel in ‘n plat plastiekbak onder die afdroogdoeke!


Hier is nog ‘n paar riglyne om die beste diens uit jou messe te kry: 



  • ‘n Goeie en wyse gewoonte is om nooit vir iemand ‘n mes met die hand aan te gee nie. Plaas dit op die werksoppervlakte neer en laat die persoon dit self optel. Dit skakel misverstande en ongelukke uit. Dit skakel ook vingers uit jou sop uit.

  • Moet nooit ‘n mes in die lug rondswaai of vashou met jou vingers om die skerp sny-oppervlak van die lem nie. Dis malligheid!

  • Moenie jou messe vir enige ander doel gebruik behalwe om kos daarmee te sny nie. Nee, dis nié ‘n blikoopmaker of skroewedraaier nie.

  • Moet nooit omdraai met ‘n mes in jou hand om met iemand te praat nie. Plaas die mes op die werksoppervlakte voor jy omdraai. Dis beter vir die persoon agter jou se senuwees.

  • Moet nooit ‘n mes gebruik om kos op te balanseer en rond te dra nie. Dit beïndruk nie jong meisies nie en is gevaarlik.

  • Moet nooit messe in die wasbak of onder ander artikels los nie. Messe en skerp lemme is altyd ‘n gevaar indien dit nie in sig is nie. Niksvermoedende skottelgoedwasser kan ‘n pols afsny onder al die skuimbolle.


Ek hoop dit help met julle mes inkopies. Aangesien ek gruwelik bygelowig is kon ek nog nooit messe op my wenslysie sit vir ‘n verjaardag- of Kersgeskenk nie. Ek glo dis nie voordelig vir ‘n vriendskap om messe as ‘n geskenk te ontvang nie...Maar dis ek en my persoonlike bygelofies!


Aan die ander kant weet ek ook nie of enige man sommer vir sy vrou ‘n stel vlymskerp messe as ‘n Valentyn- of huweliksherdenkingsgeskenk sal koop nie...


Julle moet skerp wees, tot volgende keer.


Smulpaap groete


 

facebook
twitter
img
img
img
  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Palestine
Would you support a boycott of Israeli products?
Yes
No
top
bottom