Tuesday 21 October 2014
Home / News / Jong leier sterf in botsing

Die skoolgemeenskap van Milnerton is in skok en rou gedompel nadat die geliefde hoofseun van die Hoërskool Milnerton, Jake Wootton (18), Donderdag op Hermanus kritieke beserings opgedoen het toe hy voor ’n motor beland het.

Lewensonderhoudende masjiene is gister in die Vincent Pallotti-hospitaal in Pinelands afgeskakel nadat hy reeds Saterdag breindood verklaar is. Sy organe is gister omstreeks 15:00 vir skenking verwyder.

Hy is een van agt padslagoffers oor die Paas-langnaweek op die Wes-Kaapse paaie.

Sy pa, mnr. Steve Wootton, het gesê die familie het besluit om sy seun se organe te skenk. “Ons het hieroor gepraat. Jake sal dit so wou gehad het. Hy was ’n mens wat aan ander gegee het.”

Wootton het gesê sy seun was ’n geesdriftige sportman en baie gewild onder sy mede-leerlinge. Hy was ’n menseredder omdat hy ook ’n liefde vir die see gehad het, en hy het daarvan gehou om te skuba-duik en te branderry.

“Sy dood is hartverskeurend vir ons gesin,” het Wootton gesê.

Volgens Jamie Forknall, een van Jake se beste vriende en ’n ooggetuie van die ongeluk, was agt van hulle op pad terug na ’n vriend se huis waar hulle sedert Dinsdag tuisgegaan het, toe die ongeluk gebeur het.

“Ons was die (Donderdag-)aand uit en het net ná 23:00 teruggestap. Ons het aan die kant van die pad geloop. Die pad was stil. Dit is toe dat ons die motor vinnig sien aankom het.

“Dit het nie gelyk of hy stadiger gaan ry nie. Ons ander het daarin geslaag om betyds uit die pad te spring, maar Jake is raakgery,” het Forknall gesê.

Nog ’n vriend, Daniel Stokell, het Jake as ’n sterk persoon beskryf. “Almal het van hom gehou. Wat gebeur het, is hartseer.”

Mnr. Paul Besener, hoof van die Hoërskool Milnerton, het gister aan Die Burger gesê Jake se sterfte gaan nie net ’n groot leemte in die skoolgemeenskap laat nie, maar ook in die breë gemeenskap.

“Jake was daardie jong man na wie ander opgesien het. Hy het rugby gespeel, deelgeneem aan atletiek en was by die skool se avontuurklub betrokke. Hy sou aanstaande jaar ingenieurswese gaan studeer het.”

Kapt. Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die ongeluk het omstreeks 23:20 in Dirkie Uysstraat gebeur.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek, maar niemand is tot dusver oor die voorval in hegtenis geneem nie.

Jake word oorleef deur sy pa, ma, Susan, en ’n ouer suster, Leigh.

-Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom