Saturday 26 July 2014
Home / Sport / Bloed vloei by eerste EFC

Daar was bloed, sweet en die vuis- en skophoue het behoorlik geklap binne die heksagoon waar vegters mekaar die stryd aangesê het.

Die GrandWest-casinokompleks in Goodwood was Vrydagaand gevul met angs en opgewondenheid vir die eerste Extreme Fighting Cham­pionship (EFC) Africa wat in Kaapstad gehou is.

Twaalf aksiebelaaide gevegte het die bewonderaars, oud en jonk, op die punte van hul stoele gehad. Mense het luidkeels hul gunsteling-vegters aangemoedig.

Die Brasiliaanse boorling Jadyson “Little Wanderlei” Costa, wat Kaapstad sy tuiste gemaak het, het in die weltergewig-afdeling die kampioen, Dallas Jakobi, binne 39 sekondes in die vierde ronde met ’n tegniese uitklophou uitgeslaan.

“Ek het gesê ek gaan die nuwe kampioen wees. Ek het hard geoefen en dit het vrugte afgewerp. Jakobi het ’n goeie geveg gelewer, maar ek het die oorhand gehad.”

Costa, wat al die rondes oorheers het, se naam het gedreun binne die Grand Arena soos hy vir Jakobi voos geslaan het. Hy het ander vegters wat aanspraak maak op sy titel gewaarsku dat dit nie so maklik gaan wees om dit van hom af te neem nie.

Die geveg van die aand het aan Don “Magic Man” Madge van Claremont en Leon Mynhardt van Pretoria in die liggewig-afdeling gegaan. Hoewel die Kapenaar die oorhand in die eerste twee rondes gehad het, met die bloed wat uit Mynhardt se gesig gestroom het, het Mynhardt Madge met ’n tegniese uitklophou in die derde ronde verslaan.

Die swaargewigkampioen, Ruan Potts, het gesê met gemengde gevegskuns kan jy nooit voorspel wie gaan wen nie. Die ander Kapenaars wat ook deelgeneem het, James le Roux, Abie Valentine en Francois Kabulu, kon nie daarin slaag om hul gevegte te wen nie.

Vir die bewonderaars was dit van die beste gevegte wat hulle sover gesien het.

“Ek het die eerste gevegte by Carnival City gaan kyk en sedertdien raak dit net beter en beter. Ek het spesiaal net vir dit afgevlieg. Ek is mal oor die sport. Die vegters is van die vriendelikste mense wat jy sal teëkom,” het mnr. Marius Smit van Johannesburg gesê.

Die Protea-paaltjiewagter Mark Boucher was ook in die skare. “Ek kyk dit gereeld op die televisie. Dit is net soveel beter om dit lewendig te sien. Jy kan die houe hoor en sien hoe hulle gesigte begin opswel soos hulle mekaar takel,” het hy gesê.

“Hier is niks eendimensioneel aan die sport nie. Hier is iets van alles: boks, karate, judo, stoei en jui-jitsu. Jy weet nooit wat om te verwag nie,” het mnr. Travis Hendricks van Kensington gesê.

Mnr. Cairo Howarth, president van EFC Africa, het gesê EFC kom weer later in September na Kaapstad.

- Die Burger

Related Articles
  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom