Tuesday 21 October 2014
Home / News / Mondskilders se werke tentoongestel

Sowat honderd skilderye wat almal met die mond geskilder is, sal van Vrydag in die Andries Olivier-kwadruplegiese sentrum in Durbanville te sien wees.

Dié skilderye is die afgelope 13 jaar deur drie inwoners van die sentrum, Patrick Botto, Martin Sodoms en Brenton Swartz, geskilder.

Botto is al byna 19 jaar in ’n rystoel. Dié oudpolisieman en vingerafdruk-kenner is van sy nek af ondertoe verlam nadat hy in 1993 sy nek in ’n motorongeluk gebreek het.

Vier jaar ná die ongeluk het hy en ’n medekwadrupleeg, Sodoms, kunsklasse begin neem by Martie Westraadt by die Bellville-biblioteek.

In dié tyd het Westraadt die twee aan die Vereniging van Mond- en Voetskilders van die Wêreld (AMFPA), wat in Liechtenstein gesetel is, bekend gestel.

Hulle het aansoek gedoen om as studente by dié vereniging aan te sluit. Botto is in 2000 en Sodoms ’n jaar later aanvaar.

“Dit was ’n groot deur wat vir ons oopgegaan het, veral finansieel,” vertel Botto waar hy voor sy esel sit.

Swartz is drie jaar gelede as studentelid van die vereniging aanvaar.

Die drie ontvang maandeliks ’n toelae van die AMFPA wat hulle in staat stel om verf, kwaste en ander skilderbenodigdhede aan te koop.

“Ons wou al lankal ’n uitstalling van ons werk gehou het, maar omdat ons so stadig skilder, het ons nie genoeg skilderye vir ’n volledige uitstalling gehad nie.”

’n Skildery neem enigiets van drie dae tot ’n maand om te voltooi.

Die drie skilder hoofsaaklik van foto’s en prente wat hulle in boeke of op die internet kry.

Soms laat neem hulle foto’s of mense bring vir hulle foto’s terug van hul vakansie.

Hulle het aanvanklik met waterverf geskilder, maar deesdae skilder hulle met olieverf wat met water gemeng word.

Die uitstalling duur tot 25 Mei. Die drie sal om die beurt daagliks skilder, sodat besoekers kan sien hoe hulle te werk gaan.

Altesaam 15% van die inkomste uit elke skildery wat verkoop word, is ten bate van die sentrum.

“Ons wil nie hê die mense moet ons skilderye koop omdat dit met die mond geskilder is nie, maar omdat hulle daarvan hou,” het Botto gesê.

- Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom