Wednesday 20 August 2014
Home / News / SA man ná 30 maande uit Afgaanse tronk

Hy het tien minute gekry om sy tronksel te ontruim, maar hy was reeds binne vyf minute by die deur uit.

Dít is hoe vinnig die Suid-Afrikaner Phil Young vandeesweek gereageer het toe hy hoor hy word uit Kaboel in Afganistan se maksimumsekerheidtronk, Pol e Char­ki, vrygelaat.

“Ek is seker hy het nie eens gebodder om sy bed op te maak nie,” het sy broer, Pat, gister gesê.

Phil is uit die bloute Maandagmiddag omstreeks 13:00 deur die tronkowerheid ingelig dat hy vrygelaat word.

Hy het die eerste vlug Doebai toe verpas en kon toe eers Dinsdagoggend uit Kaboel vlieg. Hy kom Donderdag in Kaapstad aan, waar sy drie kinders hom op die lughawe sal inwag, het Pat gesê.

“Dit is onwerklik en ’n ongelooflike verligting om te weet hy is uiteindelik uit daai land,” het hy gister in Johannesburg gesê.

Phil het onlangs ’n jaar afslag op sy oorspronklike tronkstraf van sewe jaar gekry. Hy is boonop deur pres. Hamid Karzai begenadig as ’n gebaar van welwillendheid. Dit volg nadat sy familie ’n pleidooi tot Karzai gerig het. Hy het reeds 30 maande tronkstraf uitgedien.

Met die onlangse vergunnings sou hy op 26 April vrygelaat word, maar weens die duistere wyse waarop die Afgaanse regsproses werk, was dit onmoontlik om vas te stel wanneer dit sou gebeur.

Young, wat vir die Amerikaanse teennarkotika-inisiatief Anham gewerk het, het in 2009 ’n Afgaanse veiligheidswag uit selfverdediging doodgeskiet. Hy was ’n veiligheidspesialis vir Anham.

Young het vroeër gesê die situasie in die tronk is chaoties en word deur die Taliban beheer.

Van die aangehoudenes het selfoon- en ander voordele geniet wat Young en nog ’n Suid-Afrikaner, Bevan Campbell, glad nie toegelaat is nie.

Young en Campbell is as “ongelowiges” beskou wat as sodanig nie op enige regte aanspraak kon maak nie. Campbell, van Randburg, moet nog sowat sewe jaar van sy straf uitdien, mits hy ook begenadiging ontvang.

- Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom