Wednesday 03 September 2014
/ Wanneer ’n voorneme roep

Jare gelede het ek besluit om elke jaar net een nuwejaarsvoorneme toe te pas - om nooit ’n nuwejaarsvoorneme te maak nie.

Maar die begin van die jaar met al die opwinding en hernieude lewenslus wat daarmee gepaard gaan, kan ’n mens amper nie anders as om in die stilligheid ten minste net een belofte aan jouself te maak nie.

Kort duskant middernag op 31 Desember 2011 besluit ek: vanjaar is die jaar wat ek ten minste een nuwejaarsvoorneme deurvoer.

Uit my ervaring het ek geleer die kuns van ’n goeie voorneme is om dit nie te ingewikkeld te maak nie. En in dié geval is minder werklik meer.

Vergeet van lang lyste soos om verder te studeer, ’n kookkursus te loop, gesonder te eet, elke dag ’n uur te oefen en boonop ’n nuwe taal aan te leer.

Die kuns is (dink ek) om een ding te kry wat jy werklik wil doen en daarop te fokus.

Só tob ek toe die helfte van Januarie om, oor watse nuwe uitdaging ek gaan aanpak.

“Sal ek ’n pottebakkerykursus loop? Ek moet hierdie een ernstig oorweeg, want hy is een van die pensioentrekker-voornemes op ’n ou lys uit die jare voor ek opgehou het om voornemes te maak.

Miskien is mosaïekkuns die antwoord. Ek sien al in my geestesoog hoe al my familie en vriende vir hul verjaardae vanjaar ’n mosaïekraamspieël of ses mosaïekteël-beplakte drupmatjies (coasters) kry. Dié kunsvorm is boonop ook nie te moeilik nie.

Ek gesels met ’n vriendin daaroor, in die hoop om haar arm te draai om saam met my ’n nuwe uitdaging aan te pak.

“Nee wat,” laat sy hoor, “ek is doodgelukkig op die bank voor die TV.” Al my redenasies dat ure voor die TV ’n vermorsing is van kosbare lewensure, val op dowe ore.

“Terwyl ek CSI en Law en Order kyk, is ek besig met my tuisgraad in misdaad-oplossing,” laat sy ewe sarkasties hoor.

“Dalk moet jy begin brei,” stel sy (weer sarkasties) voor, terwyl sy weet ek kan nie eens ’n afgebreekte knoop reguit aanwerk nie. “Dít kan jy doen terwyl jy televisie kyk.” Ek wíl nie brei nie. Ek kry ’n flashback van my naaldwerkonderwyseres wat aan die einde van my standerd ses-jaar gevra het ek moet asseblief die volgende jaar (wanneer ek die voorreg het om sekere vakke te kies) enige vak behalwe naaldwerk neem. Ek kon die onderwyseres nie kwalik neem nie. My naaldwerkvermoëns is só erg.

Nadat ek die helfte van Januarie omgetob het, besluit ek om weg te spring met ’n skryfkursus in kortverhale. Dís die eerste ding wat ek in 2012 gaan doen.

Maar ek is só begeesterd dat ek in die loop van die jaar beslis ook pottebakkeryklasse gaan neem en by ’n boekklub gaan aansluit.

Vir nou is dit genoeg. Want met voornemes is babatreetjies die wagwoord.

 

 

 

 

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom