Saturday 23 August 2014
Features / News / Verskillende maniere om vriende te maak

Die mens is geskape as ’n sosiale wese. Heelwat mense eindig egter by ’n sielkundige juis omdat hul eensaam voel en ’n gebrek aan vriende het. Ons het almal vriende nodig in ons lewe.

Vriendskap is nie ’n vanselfsprekende saak nie. Die vraag in baie mense se lewe is: hoe maak ek vriende? Ek bespreek kortliks enkele riglyne wat jy kan gebruik:

• Wees jouself en moenie voorgee jy is iemand wat jy nie is nie. Laat mense sommer aan die begin besluit of hulle van jou hou of nie. As iemand jou nie aanvaar vir wie jy is nie, sal so ’n persoon in elk geval nooit ’n werklike vriend van jou kan wees nie.

• Doen iets goeds vir ’n persoon. Dit kan ’n glimlag wees en jy wat sê: “Hoe gaan dit werklik met jou?” Of gee vir ’n persoon ’n opregte kompliment: “Jou nuwe haarstyl lyk vir my besonder mooi en stylvol.”

• Moenie heeltyd net oor jou dinge praat nie. Doen moeite om belangstelling in die ander persoon te toon. Vra haar uit oor haar lewe of wat haar standpunt is rondom ’n bepaalde saak. Daar is niks so vervelig soos ’n mens wat net heeltyd oor homself praat nie.

• Sluit aan by ’n vereniging of klub wat binne jou veld van belangstelling val. Hier sal jy mense met ’n gemeenskaplike belangstelling ontmoet. ’n Gedeelde belangstelling is nie altyd nodig vir ’n vriendskap nie, maar inskakeling by so ’n vereniging is egter ’n goeie beginpunt om vriende te maak. Die boodskap is dat jy moet uitkom en daar buite gaan vriende maak.

• Doen vrywillige werk. Neem deel aan ’n uitreik-aksie na ’n arm gemeenskap of bejaardetehuis.

Die wêreld is vol nood en wanneer jy begin met vrywillige dienslewering, groei jy nie net as persoon nie, maar ontmoet ook wonderlike mense wat vriende kan raak.

• Wees daardie iemand wat ander geniet om sosiaal mee te verkeer. Moenie verwag dat wanneer jy knorrig en ongemanierd is, mense vriende met jou sal wil wees nie.

• Wanneer jy iemand ontmoet met wie jy vriende wil wees, ruil kontakbesonderhede uit. ’n Aksie van jou kant is nodig om ’n vriendskap te stimuleer.

• Wees betroubaar en goedhartig en respekvol teenoor mense en so sal jy goeie vriendskappe vorm. Ons almal het ’n behoefte om ’n vriend te hê wat jy kan vertrou en na wie jy kan gaan met jou bekommernisse.

• Moenie desperaat lyk en ’n vriendskap probeer afdwing nie. Onthou vriendskappe word oor tyd gevorm.

• ’n Sosiale netwerk op die internet kan ’n manier wees om vriende te maak. Wees egter versigtig want jy mag dalk iemand met verkeerde bedoelings ontmoet.

• Gesels met mense al is jy skaam. Gee ’n stukkie van jouself vir ander en kommunikeer.

• Jy kan op enige ouderdom ’n vriendskap vorm. Dit beteken egter jy moet uitgaan en doen soos ek dit hierbo bespreek het.

  • Dr ST Potgieter: 0219495007, Facebook: ST se Pitkos. E-pos: st@pitkos.co.za.
Related Articles
  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom