Skelvis, of “Haddock” soos die meeste van ons dit ken, word in my opinie erg onderskat. Dit is alles behalwe ’n smaaklose vissoort wat slegs op ’n hospitaalspyskaart voorkom.
Soos met die voorbereiding van enige vis geld daar een goue reël wat jy maar op jou broodplank kan graveer: moet dit nie oorgaar maak nie; dis gaar as dit maklik vlok.
In Suid-Afrika bestaan daar verwarring oor stokvis en skelvis. Hier by ons word stokvis gerook en dit word dan skelvis genoem. Dit word ook so aangedui op die verpakking, en dit word algemeen aanvaar in die bedryf, solank daar net die woord stokvis iewers verskyn. Die fynskrif verdoesel vele kosgeheime! Skelvis kry dus sy helder oranje kleur van die rookproses en die naam verwys dus na die skel kleur. (Nee, dis nie ’n viswyf nie!)
Voorgesit met ’n bolaag van heerlike kaassous wat effens verbruin word onder die oondrooster, is dit koningskos.
SKELVIS MORNAY
1kg vars of bevrore skelvis
250ml melk
1 lourierblaar
30g botter
1 groot ui, gekap
Kaassous:
75g botter
80g meel
160g cheddarkaas (beleë kaas is ideaal)
5ml Aromat
Varsgemaalde swartpeper
Knippie rooipeper
Knippie droë mosterdpoeier
80g cheddarkaas
2 eetlepels gerasperde parmesaankaas
2 eetlepels broodkrummels
Plaas vis in ’n kastrol en bedek met die melk. Voeg die lourierblaar by. Bring tot kookpunt en verwyder van hitte. Laat staan vir 15 minute, verwyder vis en vlok liggies, nie te fyn nie. Gooi die melk in ’n maatbeker en vul dit aan met melk tot 450ml. Braai intussen die gekapte ui liggies tot gaar, maar nie bruin nie. Maak die kaassous deur die botter te smelt en die meel by te voeg. Roer met ’n draadklitser terwyl die melk bygevoeg word asook die geurmiddels. Verhoog hitte, bring tot kookpunt, verwyder van hitte as sous begin verdik. Roer die cheddarkaas by die sous. Plaas die gevlokte vis asook die uie in ’n oondvaste glas bak en gooi die kaassous bo-oor. Strooi die cheddar-, parmesaankaas en broodkrummels bo-oor. Plaas onder ’n warm oondrooster en rooster tot goudbruin en borrelend. Bedien saam met aartappels in die skil en groen groentes.
- Kontak Louise by 076 876 1962.