Home / Gemeenskap rou nog

’n Emosionele gedenkdiens is op Donderdag 25 Augustus gehou ter nagedagtenis aan die tien jong slagoffers wat verlede jaar dieselfde tyd in die taxi- en trein-ongeluk by Buttskop gesterf het.

Ouers, lede van die Bellville-spoorwegpolisie, provinsiale asook plaaslike polisie-lede van Kuilsrivier, Kleinvlei en Mfuleni, gemeenskapsleiers en gemeenskapslede het verlede Donderdag eers by die Zevenwacht-winkelsentrum in Kuilsrivier saamgekom waar ’n formele program vir die oggend saamgestel is, waarna hulle na die Buttskop-treinkruising in Blackheath is vir die kranslegging.

Die seremonie by die sentrum was hartroerend. Dié gedenkdiens is deur die Bellville-spoorwegpolisie gereël. Bedroefde familielede en vriende het trane weggevee en ouers het mekaar getroos.

Kapt. Leticia Kinnear van die polisie het verskeie sangitems gelewer en een van die liedere het oor vergifnis gehandel. Kinnear het gesê: “Vir ons om aan te beweeg, genees te word en aan God se lewensdoel vir ons te voldoen, moet ons kies om te vergewe.”

Die ouers van Reece Smith (7), Michaela de Koker (11), Nolan February (13), Jody Phillips (13), Cody Erasmus (15), Nadine Marthinisen (16), Jean-Pierre Willeman (13), Jason Pedro (14), Jade Adams (10) en Lisle Augis (11), moes verlede jaar afskeid neem van hul kinders toe die skooltaxi waarin hulle gery het teen ’n aankomende trein by die Buttskop-kruising gebots het. Die ongeluk het net voor 07:00 die oggend plaasgevind.

Valerie Phillips, ma van Jody, het aan TygerBurger gesê dat die jaar vir haar ontsettend moeilik was. “Ons kan nie die staat en ander blameer vir dinge nie, maar ons moet by onsself begin deur vir mekaar om te gee en lief te hê.”

Sy sê die steun van die gemeenskap beteken vir hulle baie. Frank Fabing beskryf homself as die “grootmaak-pa” van Nolan February. Frank het lank ná die kranslegging nog by Nolan se kruis gestaan. “Hy was nog die een oomblik met ons en is so skielik weggevat. Dit is steeds hartseer.” Hy het Nolan beskryf as ’n gawe kind “van babatyd af tot die dag dat hy gesterf het.”

Die tien slagoffers was saam met 14 ander kinders daardie Woensdagoggend van Eersterivier onderweg na verskillende laer- en hoërskole in Bellville, Bellville-suid en Kuilsrivier. Die taxi, wat Jacob Humphreys bestuur het, was hul daaglikse skoolvervoer.

By die kranslegging het past. Christopher Horn mense aangemoedig om God aan te roep in dié moeilike tye.

Die provinsiale minister van vervoer en openbare werke, Robin Carlisle, het ook aan die kranslegging deelgeneem. Metrorail-personeel het tydens die kransleggingseremonie aan motoriste wat die kruising gebruik, pamflette met veiligheidswenke uitgedeel.

Intussen gaan Humphreys se saak voort in die Kaapse Hooggeregshof. Hy staan op tien aanklagte van moord tereg. Sy volgende hofverskyning is Maandag 7 November.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Saturday 2012-05-19
Please select your area for forecast
CPT 11° - 15° icon
PTA 7° - 25° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 0° - 17° icon
DBN 14° - 21° icon
PE 7° - 14° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs