Saturday 25 October 2014
Home / Features / Christen nie net ’n impakspeler

Die Wêreldbekerrugby van 2011 verf omtrent alles rondom ons groen .... en daarom loop jou gedagtes dalk sommer direk na rugby toe. Ek wil jou egter met ’n ompad neem en uiteindelik so amper in beseringstyd eers by rugby uitkom.

Jy kan amper sê hierdie Handevol Hoop het per ongeluk gebeur! Dit was toe eintlik ’n regte ongeluk se skuld! Ek het al baie keer by tonele verbygery waar twee motors, erger of minder erg, in mekaar vasgery het en gedink hoe vies ek sal wees as dit met my gebeur. Jy kan maar sê dat ek in my gedagtes al min of meer gesien het hoe ek dit gaan verloor as dit met my gebeur. En toe gebeur dit wel met my! Heel onskuldig staan ek en wag by ’n verkeerslig en ’n baie groot voertuig ry van agter in my ou motortjie vas! Ek het eers die slag gehoor en toe die impak gevoel .... Nou wil jy seker voorspel hoe ek dit verloor het en te kere gegaan het? Jy sien dalk die prentjie hoe jy al self so moes uitklim en laat waai het ....

En dis nou net hier waar die ongeluk toe ’n gelukkige einde het. Gelukkig in die sin dat daar nie regtig veel skade of enige beserings was nie, maar ook gelukkig in ’n ander opsig. Jy kan maar sê dat dit (gelukkig) ’n groot wonderwerk was .... Ek het die genade gekry van Bo, dit kon van nêrens anders gekom het nie, om uit te klim en kalm te bly. Die ander persoon het waarskynlik nog groter as ek geskrik en dadelik om verskoning gevra. Ek het die skade beloer en kalm (kan jy dit glo?) gevra dat ons die voertuie uit die pad kry. Nadat ons dit gedoen het, kon ek die skade aanskou. Wonder bo wonder, en steeds kalm, kon ek skryfgoed uit my motor kry en die nodige inligting van die ander party begin bymekaarmaak.

Ek moet erken dat ek maar bewerig geskryf het aan die detail van die ander persoon en die voertuig. Toe dit my beurt was om inligting te gee kon ek sien die ander persoon het regtig groot geskrik. Al wat ek toe kon doen was om maar ’n visitekaartjie uit te haal, my ontbrekende inligting agterop te skryf en te oorhandig met die belydenis, toe eers, dat ek ’n dominee is. Ek weet nie eers of die ander party dit onthou nie, maar die persoon se eerste woorde was: ”Ek kon dit sien .....” Nou verstaan jy hoekom ek bly was dat ek dit nie sommer net verloor het en my normale ongeduldige self was nie.

So het die per ongeluk eintlik vir my ’n lewensles geword! As jy sê dat jy ’n Christen is, behoort dit altyd te wys. Ook as die ongeluk, by wyse van spreke, jou tref wanneer jy dit nie verwag nie, moet jy wys wie jy regtig is. Jy kan nie net ’n impakspeler wees wat so af en toe by die wedstryd betrokke raak nie jy moet die hele wedstryd speel. Jy kan nie net Sondae, en veral by die kerk, die Christen-“trui” dra nie, maar jy moet ook in die week, oral en altyd waar jy is, die wedstryd voluit vir Jesus speel.

Wêreldbekerrugby van 2011 se kampioene word nie gekroon na die eerste wedstryd nie dit word bepaal deur al die wedstryde wat ’n span speel en deur die hele toernooi! Dit kan beteken dat jy ook iewers ’n wedstryd verloor op pad na die finaal, of dalk nie eers naby die finaal kom nie.

Dis ook wat Jesus van sy span verwag ... om vas te byt tot die einde, wen of verloor, en deurentyd die beste te doen vir die KAPTEIN! Dit maak nie saak of jy per ongeluk ’n dominee is of enige ander man, vrou of jongmens nie ...

Kyk bietjie hoe verduidelik die Bybel in 1 Korintiërs 10 vers 31 die reëls vir Jesus se span: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. In Die Boodskap staan dit so geskryf: “alles wat julle doen, of julle nou iets eet of drink, moet julle doen sodat mense kan sien hoe belangrik God is”.

As Christene kan ons dus nie net impakspelers wees nie .... jy moet daar wees vir die hele wedstryd. As jy regtig ’n impak vir Jesus wil maak kan jy ook nie net so af en toe, per ongeluk, probeer om iets reg te kry nie jy moet dit elke oomblik doen, en voluit doen, selfs al tref die ongeluk jou!

O ja, ek vermoed jy mompel so onderlangs: “Die dominee het dit ook maar net per ongeluk reggekry ...”. Gaan kyk maar weer hier bo ..... ek hét gesê dit was ’n wonderwerk!

  • Dr. Theo Swart is predikant by die NG gemeente Uitsig (www.uitsigkerk.co.za) en kan gekontak word by theo@uitsigkerk.co.za.
  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom