News / Dié wafels liplekker

My beste kopie dié winter was gewis ’n wafelmasjientjie. Wees verseker dat hierdie nie ’n stukkie kombuisgereedskap is wat sommer stof sal vergader nie. Boonop is dit glad nie duur nie en ’n regte klein wonderwerk vir ’n vinnige nagereg of ’n warm happie laataand.

Die lente is hier, maar die aandluggie knyp nog. As die kinders eers agterkom hoe maklik dit is om liplekker wafels tuis te maak, sal jy moet sorg dat daar altyd aangemaakte beslag in die yskas is.

Ek eksperimenteer nog gereeld en jy hoef beslis nie net wafels met soet bolae te maak nie. Wat van wafels met spek en kaas vir ’n besonderse ontbytbederf? Of spinasie en kaassous of eier en mini-ontbytworsies.

Ek het ’n maandelikse kosstalletjie waar ek my wafelmasjientjie en aangemaakte beslag saamneem en dan wafels maak dat die biesies bewe. Dis lekker kompak en min moeite om in te pak. Die lesers wat gereeld stalletjies beman, sal weet wat ek hiermee bedoel: stalletjies doen is pret, maar die inpak voor die tyd en oppak agterna is die hardste werk.

Dit is ’n goeie idee vir mammas en kinders wat iets lekkers en ekonomies wil maak om by die volgende geldinsamelingsprojek by die skool te verkoop, indien ’n kragprop naby jou tafel beskikbaar is. Dit is ’n heerlike afwisseling van pannekoek wat gewoonlik verkoop word en jy kan goeie wins maak en ’n verskeidenheid ekstras aanbied en die prys daarby aanpas.

Die wafels moet dadelik bedien word wanneer dit nog lekker warm en bros is.

Hiermee die basis-resep. Indien jy soutige wafels wil maak, laat net die suiker weg uit die resep.

WAFELS

2 Eiers, geskei

Teelepel sout

1 Koppie (450ml) melk

4 Eetlepels (60ml) gesmelte botter

2 Eetlepels (30ml) suiker

2 Koppies (500 ml) meel

2 Teelepels (10 ml) bakpoeier

Sif die droë bestanddele saam. Klits die eiergele, voeg melk by en meng. Voeg die melkmengsel by die droë bestanddele en meng goed. Voeg gesmelte botter by en meng. Klits eierwitte styf en vou liggies by die mengsel in. Laat staan die beslag vir 30 minute voor jy begin bak.

Bolae vir die lekkerte:

Esdoringstroop (Maple), sjokoladesous, sjokolade- en karamelsplinters, aarbeisous, karamelsous, gerasperde kruisementgeur-skokolade, aarbeigeur-joghurt, styfgeklitste room, roomys, ingelegte Swartwoud-kersies, neute.

Skakel Louise by 0768761962. Sluit nou aan by die Smulpaapklub se Facebook-blad of besoek Smulpaap se blog by www.tygerburger.co.za.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Saturday 2012-05-19
Please select your area for forecast
CPT 11° - 15° icon
PTA 7° - 25° icon
JHB 5° - 22° icon
BLOEM 0° - 17° icon
DBN 14° - 21° icon
PE 7° - 14° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs