’n Lekker biefstuk is omtrent al wat die avontuurlustige Henko Roukema (19) van Durbanville gemis het tydens sy ekspedisie saam met die ontdekkingsreisiger Mike Horn in die noordelike deel van Kanada.
Henko, ’n oudleerling van die Hoërskool Stellenberg, het onlangs teruggekeer nadat hy van 14 Augustus af saam met sewe ander jong mense in Nunavut deelgeneem het aan ’n ekspedisie om meer van die Inuïet-gemeenskap en hul omgewing te leer.
Vleis was maar skaars en na omtrent twee weke van kospakkies met tweeminuut-noedels en ander energiekos, is die kospotte van ma, Maritha Roukema, sekerlik gemis.
Nog vlugvoos ná sy terugvlugte van meer as 23 ure via Kanada en Washington na Johannesburg, het Henko vertel dat hy een nag vasgegord op ’n tipe veldbed teen ’n bergkrans, met toue geanker en etlike kilometers bokant die grond geslaap het.
Hoewel hy, volgens hom, “soos ’n klip geslaap het van die moegheid” en hy darem onder die toue kon omdraai, was hy die volgende oggend sopnat van die misweer.
Dié ekspedisie was deel van die Suid-Afrikaanse ontdekkingsreisiger Mike Horn se Young Explorers Program waarin jong mense ongewone plekke kan verken.
Hy is vir die ekspedisie gekies nadat hy in Junie ’n avontuurkamp in Switserland bygewoon het.
Die span het onder meer ’n staptog van vier dae oor ’n gletser voltooi en op Horn se boot, die Pangaea, tussen ysberge geseil.
Asof al dié avontuur nie genoeg was om die adrenalien te laat pomp nie, het Henko ook een myl in ysige water van 4,6C in die arktiese oseaan geswem en daarmee ’n nuwe rekord opgestel vir die mees noordelike amptelike ysswem van die Internasionale Ysswem-assosiasie.
Koue water is egter vir hom niks nuut nie. Henko neem gereeld deel aan kompetisies in ysige water, soos die Cadiz Freedom-swemkompetisies, waarin hy vanjaar derde in die mansafdeling was.
“Die ekspedisie het my nie net geleer hoe om te seil, berg te klim of kos te maak vir 20 mense op ’n seiljag nie, maar ook hoe om situasies te hanteer waarmee jy gekonfronteer word.
“Dit was ook wonderlik om reddings- en verkenningstegnieke by Mike Horn te leer, wat deur baie beskou word as die grootste ontdekkersreisiger van die moderne era. Die lewenslesse wat hy aan ons oorgedra het, sal ek vir altyd met my saamdra en probeer toepas in my daaglikse lewe. Hoewel ek hartseer is dat hierdie wonderlike avontuur ten einde geloop het, weet ek ook dat dit nou die begin is van die res van my lewe,” sê hy.
Vir nou gaan Henko hom eers toespits op sy maritieme studies aan die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT), waar hy ’n eerstejaar is. Hy wil ’n skeepskaptein word.
Tieners tussen 15 en 20 jaar kan nou aanlyn via www.mikehorn.com aansoek doen vir die Amazone-ekspedisie.
- Kliek hier om Henko se blog inskrywings oor die ekspedisie te lees.