Tuesday 21 October 2014
Home / Fanie laat ’n mol vinnig hol

Het ’n mol al ooit verwoesting in jou tuin gesaai?

Indien nie, sal jy verbaas wees om te sien hoe een of twee molle jou tuin binne ’n paar dae kan omkeer. En ek praat nie net van die molshope nie. Dit kan jy plathark tot jy blou is, maar daar is niks wat jy aan die onsigbare ondergrondse tonnels kan doen nie. Dit sak in sodra ’n bietjie gewig daarop geplaas word.

Daar is natuurlik tientalle rate vir molle, waarvan nie een regtig werk nie. Gif, hoenderbene, visgrate, een of ander toestel wat vibrasies of seine afgee wat die molle afskrik, die lys gaan aan. Iemand het selfs vir my gesê ek moet ’n windwaaiertjie in die gat sit. Wanneer jy egter ’n bietjie navorsing gaan doen, besef jy hoe ondoeltreffend die rate is, want, soos iemand eendag vir my genoem het, is ’n mol dalk blind, maar baie slim. Sodra hulle ’n reukie kry van iets waarvan hulle nie hou nie (gif of ’n hoenderbeen), maak hulle die tonnel toe, dan is selfs daardie toestel wat die vibrasies of seine afgee niks werd nie. Jy skuif uiteraard net die probleem na elders in jou tuin, of na jou buurman s’n.

Dan was daar natuurlik my pa, wat grootgeword het in ’n sandwêreld waar molle koning gekraai het, se wyse raad: “Kry ’n molyster, my kind.” Die probleem is dat jy in vandag se tye sukkel om ’n molyster in die hande te kry. Selfs die koöperasies “mag dit nie meer aanhou nie”, omdat die bunny lovers bang is mense vang die verkeerde tipes molle daarmee, die wat as beskermde spesies verklaar is. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is self ’n bunny lover wat my deel doen vir diereregte, maar genoeg was eenvoudig net genoeg.

Ek het oorlog teen molle verklaar die dag toe die grond vir die derde keer binne twee dae tussen my voordeur en my motor, onder my voete weggesak het en die babastoeltjie in my hand al was wat my val gekeer het. Om nie nog te praat van die dag, ses maande vroeër, wat ek met ’n swanger boep amper in my agterplaas by die wasgoeddraad grond gekoop het nie.

Dit was ek teen daardie verpeste mol (of twee) en niks sou my stop om hulle uit my tuin te kry nie. En so asof iemand daardie dag my oorlogskreet gehoor het, wag daar dieselfde aand ’n klein handgeskrewe briefie in my posbus: “Ek vang groot molle. Fanie,” met Fanie se selnommer daarby.

Bietjie huiwerig om die nommer op ’n handgeskrewe nota te bel omdat daar deesdae soveel mense is wat enigiets sal doen om jou uit jou hardverdiende geld te kul, het ek die foon uit desperaatheid opgetel.

Toe Fanie vir my sê hy het ’n molyster, het ek gereël dat hy die eerste dag wat my dagboek gepas het, een van sy ysters kom span. R100 vir elke mol wat hy vang het ook nie vir my baie buitensporig geklink nie, en soos hy later aan my verduidelik het, dek dit maar net sy brandstofgeld omdat hy dikwels ’n paar ritte na ’n perseel moet ry om die valle na te gaan.

Daardie selfde aand nog was daar ’n bielie van ’n mol in die val in my agterplaas (ek het maar net my rug gedraai toe Fanie van die mol moes ontslae raak) en nadat twee van my bure hom ook nog binne daardie selfde week in hul tuine gehad het, was my molprobleem iets van die verlede.

Ek bewaar natuurlik nou daai handegeskrewe briefie met Fanie se nommer soos goud, net ingeval, terwyl ek nog steeds sukkel om my tuinskade (waarvan sommige gate die toedoen van die honde is wat agter ’n mol aan gegrawe het) te probeer herstel.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom