Thursday 17 April 2014
/ Wanneer stoei regtig rof raak

Ek het verlede week vir die eerste keer in my lewe ’n live show van rofstoei bygewoon en besef presies hoekom hulle dit rofstoei noem. Want dit is rof.

Kyk, dis nou nie dat ek ’n sissie is nie en ek het al so een of twee keer goed, dalk een keer rofstoei op televisie gekyk. Ek is ook baie seker dit is baie lank terug maar ter verdediging moet ek sê dit is nie eintlik my soort ding nie.

Na my mening is die ouens ietwat barbaars, maar toe TygerBurger se sportredakteur, Stehan Schoeman, my saamnooi na ’n rofstoei-aand, is ek daar. Ek het immers nog nooit so ’n geveg in lewende lywe gesien nie. Nóg ’n kollega en sy beter helfte het saamgegaan. Dit het in die Parow-burgersentrum plaasgevind en ons het in die voorste ry gesit. Dit moes die adrenalien wees, want net voor die eerste fight begin, het ek so ’n vlinders-in-die-maag-gevoel gekry.

Eerste aan die beurt is Shaun Koen en Vinnie Vegas. Hulle slaat mekaar behoorlik. En dit is slaat, want partykeer dam hulle mekaar sommer so met die plathand by. Ka-dwa, klink dit. Ka-dwa, ka-dwa, ka-dwa ’n paar houe kort na mekaar.

My rug het skoon simpatiepyne gekry, want dit moes vrek seer wees. Die geslanery met die plathand is net soos meisies sal baklei. Maar glo my, niks aan hierdie ouens is vroulik nie. Party van hulle stoeipakkies is effens aan die vreemde kant, maar dit is om by hulle personas te pas. Daar is Vinnie Vegas en The Hillbilly, Ed Electric, Miss Gorgeous en ander.

“Baie daarvan is vir die show, Jana, coach Stehan my. “Dis om die mense te entertain.

In ’n stadium hardloop die een stoeier met die ander een se kop reg in die hoekpaal vas. En die bloed loop. Kyk, as iemand my ooit moet slaan dat die bloed loop, gaan ek vir seker nie terug vir nog nie, maar nie die rofstoeiers nie... Hulle staan weer en weer op om nóg so geslaan te word.

Aanvanklik stoei (en klap en skop) hulle mekaar net twee-twee, maar in ’n stadium pak twee ouens sommer gelyk ’n ander een.

Ek wou opspring en vir die skeidsregter skree dit is onregverdig. Dis twee teen een! “Mag hulle dit doen?” vra ek vir Stehan, maar klaarblyklik werk dit so in die rofstoeikryt. Maar dit pla my weegskaalhart. Hoe kan iemand die wenner wees as hulle twee teen een baklei het?

In een van die gevegte slaan die een ou die ander een só hard dat sy tand deur die lug trek. Na ons kant toe. Ek probeer volg waar die tand val, maar sien dit nie. Terwyl my oë verwoed die grond fynkam op soek na die tand (’n mens weet nooit nie, dalk kan ’n goeie tandarts vir die arme stoeier iets doen), leun my ander kollega, Leon Steenkamp, oor. “Waarna soek jy?” Hy moet skree, want die mense gaan mal. “Die ou se tand, man,” skree ek terug.

Tóé eers moet ek hoor die stoeier het net so ’n boog gespoeg, dit was nie sy tand nie. Jig, dink ek. Maar ten minste kan ek my aandag weer by die kryt bepaal. Minute later kry ek ’n vooraansig van dieselfde stoeier en sy twee voortande is uit. “Dit wás sy tand,” protesteer ek. My oë daal klaar weer grond toe, maar Stehan verseker my die ou het sonder tande in die kryt geklim.

Anders as wat ek gedink het (’n logiese afleiding) hoef die stoeiers nie net binne die toue van die kryt te fight nie. Hulle slaat mekaar deur die toue, of bo-oor, of hulle skop sommer die ou wat lê onderdeur die toue van die kryt af tot op die grond (die gesegde wat lui dat jy nie iemand skop as hy lê nie, is duidelik nie hier van toepassing nie).

Aan die einde van die aand het ek my kakebeen omtrent in ’n verlamming ingeklem, vir die stoeiers se onthalwe. Eintlik is dit nogal heel entertaining. Dit is nou wanneer jy jouself ophou kwel oor die onregverdigheid van die situasie en die stoeiers se pyn.

 

 

 

 

 

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom