Friday 25 July 2014
Home / Toe Klara oor als bieg

Klara Beukes kan nie ’n woord of syfer lees of skryf nie, maar haar bron van wyshede, pittighede en lewenstories ken geen einde nie. Ook nie haar kinderlike eerlikheid nie.

Klara werk by my ma in die huis op hulle plaas. Sy’s klein en fyn, met die oker velkleur en hoë wangbene van haar voorsate uit die Boesmanland, die “ghamsakke” op haar “saaite” ook, soos Klara sê. Sy’t vir ’n vrou by wie sy gewerk het, wat volgens haar “regtig lelik gebou is”, gesê al wat vir dié vrou se ronde heupe sal werk, is “om op ’n diet uit te gaan, maar sy het nie die raad gevat nie”.

Klara noem my nôi Mariana, al het ek gesê sy moet my op die naam noem, want ons is dan ewe oud. Nee, sê Klara, “dis mos nou maar hoe ek grootgeraak het, nou’s dit te laat vir verander, verstaan nôi Mariana?”

As Klara dorp toe gaan, drink sy te veel. Hieroor is sy eerlik. “En as ek dronk is, nôi Mariana, raak ek verkeerd.”

Dié bakleierigheid het Klara al in die tronk laat beland. Dit was ’n skoonsuster genaamd Poppie, wat haar daardie aand verkeerd opgevryf het.

“Kyk, nôi Mariana, ek weet sy’s ’n loller (moeilikheidmaker), maar sy’t my ma sleggesê. En dit kan ekkie váttie, verstaan nôi Mariana? Toe skree ek op haar en toe klap daai tief (teef) my. Ek steek toe met die vuiste los. Later toe slat ek kierie.” Klara spaar my geen detail nie.

“Die moeilikheid is, nôi Mariana, ek was lekker dronk en Sissie was lekker dronk. Later het ek my rok oor my kop getrek om beter te slat. En ek dra mossie bryse (bra) nie. Toe staan ek daar net in my pantie toe die polisie kom.” Klara het ook nie bryse nodig nie. Sy’s die spreekwoordelike strykplank met twee disprinne op, soos sy sal sê.

“Hulle sê toe ‘Klara, julle maakie reg hiesô nie’. Ek sê toe ‘ja, daai’s reg genôg, ma ek latie ’n tief aan my klappie.” Klara raak al hoe driftiger.

“Toe laai hulle ons in die vên, en soos hulle met ons tronk toe ry, so slat ek nog.”

Klara moes gemeenskapsdiens doen wat die skoonmaak van die klein polisiekantoortjie ingehou het. “Dit was die verveligste werk op aarde,” sê sy met ’n groot handgebaar en gee verder besonderhede. “Dit is wat my uit die moeilikgeit uithou ek willie weer daai soort werk doen nie.”

En oor my eie moeilikheid met aangetroude familie, wil Klara haar eers doodlag, sy vou eintlik dubbeld oor die wasbak. Sy sê ek moet maar liewers die minste wees, waarteen ek heftig kapsie maak.

“Kwaadwees help nie, nôi Mariana, dit kom lê soos gif in jou hart. Nôi moet maar liewers die vrede vat.”

Sy sweer om dié familiestories nie verder te vertel nie. “My nôi, wat ons hier praat, bly net hier. Ek makie stories nie, want ’n storie het ’n manier om te rank.”

Vir ’n man het Klara nie veel tyd nie. “Nôi Mariana, hulle wil net kom lekke lê en my uitsien (uitskel). Daar’s hoeka hierdie mannetjie wat nou by my spog, ma ek weet, as hulle dronk is, sien hulle my uit. En ek soekie daai nie, verstaan nôi Mariana?” Ja, Klara, nôi Marana verstaan, beter as wat jy weet.

Klara help my kar pak toe ek moet terugkom Kaap toe.

“Ja, nôi Mariana, nou sal die verlangte weer kom. Julle moet mooi ry en bel ons nou as julle daar aankom, dat ons darem ôk kan weet wat aangaan, hoor nôi Mariana?”

Ek hoor, Klara, ek hoor.

 

 

 

 

 

 

 

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom