Om te bly of om te gly? Om een of ander rede is daar skielik heelwat mense wat my oor hierdie belangrike saak raad vra. Hoe weet jy om die regte besluit te neem? Hoe hanteer jy dit as dinge jou erg frustreer en jy weet nie of jy dit langer kan uithou nie? Hoeveel kan ’n mens (nog) verdra voordat jy besluit dis nou tot hier en nie ’n tree verder nie? Hoe doen ek dit ek moet ’n belangrike besluit neem wat die rigting van my lewe heeltemal kan verander en ek weet nie wat vir my wag nie?
Wat is die redes dat mense nou hierdie moeilike vrae vra? Dit kan wees dat hierdie tyd van die jaar ’n mens nogal laat nadink oor die toekoms. Miskien het mense al so lank gedink oor die verlede dat hulle nou voel dit kan net nie meer op dieselfde trant aangaan nie. Dalk soek iemand net ’n bietjie skietgoed, of moed, om uiteindelik ’n verandering te maak wat eintlik al lankal moes gebeur. Net soos die redes vir die vrae nie eenvoudig is nie, is daar ook nie ’n maklike of eenvoudige antwoord nie.
Iewers het ek, in die verre verlede al, iets raakgelees wat my nog altyd help om moeilike besluite te neem en keuses te maak. Die aanhaling sê: “Until the pain of staying is greater than the fear of going, we will always remain with the familiar”. In hierdie paar woorde lê ’n groot waarheid opgesluit! Iewers moet ’n mens dus voorraadopname hou van wat op ’n bepaalde tydstip met jou aan die gebeur is...en dan tot ’n besluit te kom! Hoeveel geniet jy dit wat jy doen? Hoe lekker is die huidige omstandighede? Hoeveel pyn en frustrasie ervaar jy? Leef jy regtig of oorleef jy van dag tot dag? As jy al hierdie dinge opweeg kan dit dalk help om na die een of ander kant ’n besluit te neem.
Dit is byna ondenkbaar dat mense jare lank ongelukkig kan wees en bly wees. Hulle leef in moeilike en kwetsende verhoudings, maar hou tog uit. Daar is mense wat al jare lank nie meer vreugde in hulle werk het nie, maar tog nog elke dag deur die pynlike roetine gaan van waaraan hulle gewoond is en oorweeg nie eers ’n verandering nie. Waarom?
Die lewe is te kort om heeltyd ongelukkig te wees. Niemand van ons kan oorleef as ons die hele tyd net pyn en frustrasie ervaar nie. Onsekerheid, uitbuiting en swak werksomstandighede kan nie maar net vir altyd (stilswyend) aanvaar word nie ... Iewers moet ’n mens by ’n punt kom en ’n besluit neem. Jy sal vir jouself moet kan sê: So kan dit nie meer aangaan nie! Maar om een of ander rede is dit tog so dat ons maar eerder die pyn van dieselfde wees, dieselfde doen en dieselfde plek bly verkies bo die onbekende. Is dit dan nou maar bloot omdat jy eerder die slegte, wat jy goed ken, tog maar verkies bo die onbekende wat jy nie ken nie, al kan dit heelwat beter wees?
Aan die einde van die jaar is dit die tyd om wel ’n besluit te neem. Om by die punt te kom met geloof in die onbekende, die donker toekoms in te spring. Om met vertroue te kan sê dit was nou genoeg, en dit kan net beter en anders! Jy moet dus besluit dat jy so oorgenoeg gehad het van die ergste van die bekende dat jy glad nie eers meer bang is vir die ergste van die onbekende toekoms nie.
Besluit dit is nou die beste tyd vir ’n verandering! Nou is die kans vir ’n nuwe toekoms. Wat jy nou doen kan jou hele lewe verander ten goede!
Ek het gaan Google om te sien wie die outeur van die aanhaling hierbo was. Ek kon geen naam kry nie, en ook nie die aanhaling in presies dieselfde woorde nie. Daar was egter ook twee soortgelyke anonieme aanhalings wat my nog verder laat dink het: “People stay with something until the pain of staying exceeds the expected pain of leaving” en “The pain of staying the same has to become greater than the pain of change”. In ander woorde word byna dieselfde gesê as my aanhaling iewers uit die verlede voordat Google daar was...
As jy ’n belangrike besluit moet neem sal jy pyn (die bekende) en vrees (die onbekende, nuwe en verandering) teenoor mekaar moet opweeg. Jy kan dieselfde bly, of jy kan ’n eerste tree waag na ’n nuwe toekoms. Sien jy kans daarvoor?
Gelukkig hoef jy dit nooit alleen en sonder geloof te doen nie. In Psalm 16, wat my gunsteling is, kry jy die belofte dat jy maar kan waag op die pad vorentoe. Dis nou die tyd, neem die besluit, maak ’n verandering jy is nie alleen nie, want: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.”
- Dr. Theo Swart is predikant by die NG Gemeente Uitsig (www.uitsigkerk.co.za) en kan gekontak word by theo@uitsigkerk.co.za.