Thursday 23 October 2014
Home / News / Metrorail bal sy vuis

Metrorail se geduld met pendelaars wat sonder kaartjies probeer treinry of met derdeklaskaartjies in eerste klas ry, is klaarblyklik op.

’n Man wat in iemand se tuin in Parow werk, wou onlangs met sy derdeklaskaartjie op die trein klim om werk toe te kom. Die derdeklaswaens was propvol. Siende dat die eersteklaswaens nog baie plek gehad het, gaan klim hy toe daar in, want by die werk moes hy kom.

Op die Parow-stasie aangekom, is hy glo hardhandig deur ’n Metrorail-beampte van die trein gehaal en in ’n wagkamer, saam met ander soortgelyke pendelaars, “toegesluit”, het die vrou wat hom kom oplaai het, beweer. Hulle treinkaartjies is gekonfiskeer en daar is vir hulle gesê dat hulle ’n boete van R40 moet betaal voor hulle vrygelaat sal word.

Een pendelaar, wat probeer wegkom het, het sleg tweede gekom toe die beamptes honde op hom gesit het om hom aan te keer. Hy het op die perron geval, het die vrou geskok gesê.

Die tuinwerker, wat liefs nie sy naam genoem wil hê nie, het nie R40 by hom gehad nie. Hy het toe een van die beamptes nadergeroep vir onderhandelings. Dié aanvaar toe R10 in ruil vir die tuinwerker se vryheid. Hy het hiervan foto’s met sy selfoon geneem.

Die vrou wat hom kom oplaai het, was erg onthuts oor die hardhandige optrede van die beamptes en het dit as aanranding beskryf.

Sy sê sy weet van soortgelyke optrede by ander stasies in die omgewing. As Metrorail ’n diens lewer, moet hulle genoeg derdeklaswaens aanhak, eerder as om mense te vervolg wat in die verkeerde klas ry, meen sy.

Sy was geskok oor die wagkamers wat volgens haar as “selle” gebruik is op die Parowstasie om “oortreders” in aan te hou.

Haar klagtes by Metrorail is met ’n verklaring oor vandalisme op treine beantwoord, het sy gesê.

By navraag het die streekbestuurder van Metrorail, Lindelo Matya, gesê dis nie Metrorail se bedoeling om sy kliënte sleg te behandel nie. “Om sonder ’n geldige kaartjie te reis, is egter ongelukkig ’n kriminele oortreding in terme van die Wet op Regsopvolging (Wet 9 van 1989). Duisende pendelaars word maandeliks van die treine verwyder in Metrorail se aksieveldtogte om reisgeld in te win en talle word uiteindelik vervolg,” het hy gesê.

Volgens hom is meer as 23?000 treinoortreders suksesvol vervolg sedert die openbare vervolgingsprogram in werking getree het. “Sonder die hulp van tegnologie (outomatiese kaartjiemasjiene en kaartjieskandeerders) moet daar egter op menslike ingryping staatgemaak word. Daarom gebruik rondgaande spanne draagbare kaar­tjiemasjiene waar kaartjiekantore gesluit (maar beman) is.”

Hy het pendelaars sterk aangeraai om in besit van ’n geldige kaartjie vir die regte klas te wees voor hulle op ’n trein klim om te voorkom dat hulle “tydens spesiale aksieveldtogte verontrief word” en om betyds te wees.

Hy het gesê Metrorail het die reg om ’n besprekingsfooi, wat tans R40 is, te hef en/of mense te vervolg wat nie geldige kaartjies het nie, “maar pendelaars wat so ’n fooi moet betaal, moet op ’n kwitansie aandring”.

Oor beamptes se hardhandige optrede en beweerde aanvaarding van omkoopgeld, het hy gesê Metrorail moet mense altyd beleef en profes­sioneel hanteer. “As dit nie die geval is nie, moet kliënte die ongewenste optrede dadelik by die betrokke stasiebestuurder aanmeld.”

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom