Monday 24 November 2014
Features / Filodeeg is ’n waarborg vir fynproe-finesse

Vandag onthul ek ’n kosmaakgeheim met die gebruik van ’n wonderlike bestanddeel in hierdie maand se resep. Sit hiermee fynproewergebak voor, selfs al is jy ’n powere bakker! Jou aanbieding sal altyd indrukwekkend lyk, volg net die maklike stappe.

Hierdie towerbestanddeel is filodeeg. Papierdun velletjies deeg wat op vele maniere gevorm kan word: pakkies, rolletjies, geldsakkies, driehoekies, opgefrommel, wees so kreatief as wat jy wil!

Hoewel jy die beste resultate verkry deur dit liggies met egte botter te bestryk, kan jy ook margarien of selfs olyfolie gebruik vir ’n gesonder opsie; dus ’n baie gesonder pasteideeg om vir soet- of soutgebak te gebruik. Verder is dit geensins ’n tragedie as die deeg skeur terwyl jy daarmee werk nie, dit sal glad nie sigbaar wees in die eindresultaat nie. Aangesien filodeeg altyd ’n paar lae op mekaar gebruik word, sal hierdie glipsies perfek bedek kan word. Baie vergewensgesind.

Basiese stappe om te volg: ontdooi die deeg heeltemal, plaas een laag deeg op ’n slag plat neer en bestryk met ’n baie dun lagie gesmelte botter.

Gebruik ’n goeie kwaliteit sagte verfkwas hiervoor. Bedek altyd die orige deeg waarmee jy nie werk nie met ’n klam doek om uitdroging te voorkom.

Plaas elke laag bo-op die vorige een, gewoonlik word drie tot ses lae deeg gebruik.

Sny die deeg in die verlangde groottes aan die einde van die proses. Enige soet of sout vulsel kan gebruik word; die enigste voorwaarde is dat dit nie te souserig moet wees nie, aangesien jou eindresultaat dan pap sal raak. Oefening bly steeds die beste leermeester.

Vrugtige geldsakkies met Kersvulsel (12)

50 g (125 ml) okkerneute, gekap

50 g (125 ml) pekanneute, gekap

100 g (155 ml) geglaseerde kersies, gekap

454 g potjie fyn vrugte-Kersvulsel

400 g filodeeg, ontdooi

50 g botter, gesmelt

Meng die gekapte neute, kersies en Kersvulsel saam. Plaas ’n vel filodeeg op ’n plat oppervlakte en bestryk liggies met gesmelte botter. Herhaal twee maal, drie velle in totaal. Sny die deeg met ’n skerp mes in 160mm-vierkante. Plaas 45 ml van die vrugtemengsel in die middel van elke vierkant. Bring die hoekies van die deeg bymekaar en gee ’n stewige draai om die geldsakkie te vorm. Smeer gesmelte botter liggies bo-oor. Plaas op gesmeerde bakplate en bak 15 minute by 200C tot bros en goudbruin. Koel effens af en bedien met geklopte room of brandewyn-botter.

Vir meer inligting, skakel Louise by 0215918391.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
bottom