Thursday 24 July 2014
Features / ’n Warm hart vir ’n yskoue job

“When the operator answers your call, please state which service you need: police, ambulance, fire brigade,” sê die elektroniese stem. “Hallo, what is you emergency?”

“I don’t know which service I need, I have a snake in my backyard, my name is Marana,” sê ek in een asemteug. Ek wil nie hê iemand wat met ’n bewerige hand die noodlyn bel terwyl bloed uit sy borskas spuit, moet hoor hy is nr. 9 in die ry nie.

Ek hoor ’n onderdrukte giggel. Toe professioneel: “Where are you, m’am?” Ek sê haar. “Is it okay if I put you through to your local police station? They will be able to assist you.” Die lyn gaan dood.

Ek bel weer. Hierdie keer is daar weer ’n pouse, maar dis omdat die man dink hy’t nie reg gehoor nie. Maggies, is ek die eerste mens in die groter Kaapstad wat ’n slang in die agterplaas het?!

Miskien wel die eerste om die nooddienste daaroor in te lig

In elk geval, ek kry die brandweer se nommer, want “hulle het ’n afdeling vir die verwydering van diere”. Ek het meer gedink dis vir jou huiskat wat hoog in die boom sit of jou boerboel wat die gat in die heining oorskat het, maar ’n mens weet nooit. Dinge verander.

Die vrou by die brandweer is dóódseker sy het verkeerd gehoor. Sy sê sy gaan my deursit na “disaster management”, ek moet vir Russell vra.

Ek het nie gedink dis ’n disaster nie, nog nie. Ek het nie eens gedink die voorval is al op krisisvlak nie.

Russell sê: “Neeee, mevrou, ons verwyder nie slange nie. Waar bly u, mevrou?” Ek sê hom en wonder of hulle my nou na die laaste noodopsie ambulanse gaan deurskakel, maar ek kry die selnommer van “Gary”.

Gary antwoord besonder vinnig vir so laat op ’n Saterdagmiddag. Hy vra hoe groot die slang is, hoe die slang lyk. Ek sê so 50cm en dis kanongrys met strepe oor die rug. Ek dink regtig dit is eintlik onskadelik, op die oomblik lyk dit maar vir my taamlik koud en stadig, maar wat doen ek daarmee?

Ek vertel Gary nie, maar ek het skiet oorweeg dis een van my meer twyfelagtige talente. Maar toe gewonder oor die geraas, gedink “disaster management” kan dalk dan wel opdaag.

Gary vra waar die slang nou is. Ek sê, wel, ek reken in die agterplaas. Kyk jy nou daarna? Nee, ek het dit met ’n emmer toegemaak en die emmer in die grond probeer indraai sodat die addertjie nie kan wegseil nie.

Lewe die slang nog, vra Gary. Ja, laas toe ek gekyk het. Ek dink nie suurstofnood kan so gou intree nie. Dit is nie ’n groot slang nie en dis nie ’n klein emmer nie.

Gary sê hy’s oor tien minute daar. En hy is. Met ’n groot houer en ’n slangvangstok storm hy van die voordeur af sonder huiwering na die agterdeur en toe reguit na die emmer. Jy sal sweer die man was al voorheen hier.

Snaaks, ek merk ’n sagtheid in sy oë op. Ek het meer van ’n koudheid verwag.

Hy lig die emmer stadig op, nog meer, heeltemal. Gits, het die salmandertjie nou wraggies verdwyn? Maar toe steek Gary rustig sy hand vorentoe, tel die wriemelende dingetjie op en praat uiters rustig terwyl die slangetjie om sy hand krul.

“Dis ’n ou slakvretertjie. Heeltemal onskadelik. Ek’s bly jy het hom nie doodgemaak nie. Hulle bly maar in mense se tuine en hou die slakke onder beheer,” verduidelik hy die onkundige.

Terwyl Gary sy goed oppak nadat hy die slakafmaaiertjie in die houer gesit het, sê hy dat enige slang in die Wes-Kaap met strepe oor die rug, onskadelik is. Ja, Gary, maar wat máák ek met die slang?

Hy kyk my half vraend aan. “Jy hou hom in jou tuin, maar as hier katte in die omgewing is, moet jy liewer dat ek hom kom haal. Daardie goed is so wreed met slange” Ek verbeel my daar was emosie in sy stem.

Half skuldig dink ek aan my ou spinnende liefbol wat ewe rustig in die vensterbank haar kloue sit en skoonlek. Sy? Wreed?

“Hulle is besig om uitgeroei te raak. Ek sal hom op ’n veilige plek loslaat,” beloof hy. En ek glo hom.

Gary groet, sê ek moet ’n lekker dag hê. Hy kyk met die uithardloop om, weer die warm oë: “Dankie dat jy hom nie doodgemaak het nie.”

Plesier, Gary, sal dit nooit weer oorweeg nie. Belowe.

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom