googletag.pubads().enableSyncRendering(); googletag.pubads().enableSingleRequest(); googletag.enableServices(); TygerBurger - WKOD bou meer skole as beplan
Tuesday 29 July 2014
News / Eerste River / WKOD bou meer skole as beplan

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het sy teiken om nuwe skole in die provinsie te bou, oorskry.

“’n Verdere 30 000 leerders sal nou toegang tot onderwys in die Wes-Kaap hê,” het Donald Grant, Wes-Kaapse minister van onderwys, Donderdag aangekondig.

In Februarie 2010 het die departement ’n plan aangekondig om 45 nuwe skole – insluitend skole wat herbou moes word – oor ’n driejaar-tydperk te bou.

Soos sake nou staan, sal 47 nuwe skole teen April volgende jaar voltooi wees.

Dit sluit 26 nuwe skole in, asook 21 skole wat van swak materiaal gebou is en herbou moes word. Dié oorgeboude skole sal 27 000 leerders in verbeterde onderrigomstandighede huisves.

Die tweede fase van die WKOD se infrastruktuurplan sal later vanjaar of vroeg volgende jaar bekend gemaak word. Name van skole wat moontlik kan sluit of saamsmelt, sal binne die volgende twee weke aan Grant oorhandig word vir oorweging.

Die Wes-Kaapse onderwyshoof, Penny Vinjevold, het gesê dit is egter slegs die begin van ’n proses wat ’n reeks onderhandelings en gesprekke met die publiek sal insluit.

“Ons is daarvan bewus dat sluiting of samesmelting iets is wat baie emosies uitlok,” het Vinjevold gesê. “Dit is egter nie besluite wat oornag geneem word nie en ons motief is altyd om gehalte-onderrig vir kinders te bied.”

Volgens Grant is die onderwysstelsel baie dinamies en moet dit voortdurend aanpas volgens die gemeenskap waarin dit geleë is. Sommige gemeenskappe brei uit, terwyl ander krimp.

Spesiale tegnologie

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het nou spesiale tegnologie tot sy beskikking om te bepaal waar nuwe skole gebou moet word.

’n Geografiese inligtingstelsel sal die departement voortaan in staat stel om presies te bepaal waar skole onder- en oorbenut word.

Dié nuwe stelsel – wat deur ’n afdeling in die premier se kantoor ontwikkel is – dui onder meer aan of dit ’n hoër- of ’n laerskool is, of dit in die armoede-indeks is en hoe groot die terrein is waarop dit geleë is.

Vinjevold het gesê in die verlede moes hulle baie op versoeke uit die gemeenskap steun om te bepaal waar nuwe skole gebou moet word.

“Die stelsel help ons om ’n oorsig te kry en besluite op grond van feite te neem.”

Moontlikhede soos samesmelting tussen oorbevolkte skole wat van swak materiaal gebou is met skole wat onderbenut word, kan byvoorbeeld nou oorweeg word.

Volgens haar sal dit die taak van elke skool wees om data by te hou en inligting aan distrikskantore oor te dra.

“Dit beteken nié dat ons glad nie meer met skole in kontak sal wees of besoeke sal aflê nie, maar stel ons in staat om beter moontlikhede te oorweeg.”

- Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Palestine
Would you support a boycott of Israeli products?
Yes
No
top
bottom