googletag.pubads().enableSyncRendering(); googletag.pubads().enableSingleRequest(); googletag.enableServices(); TygerBurger - 'Verbied selfone in skole!'
Saturday 29 November 2014
News / Ravensmead-Belhar / 'Verbied selfone in skole!'

Verbied selfone in die land se skole.

Dít is die ernstige pleidooi wat die Nasionale Vereniging vir Skoolbeheerliggame (NVS) aan skole dwarsoor die land gerig het.

Volgens die NVS is dit noodsaaklik dat skole selfone verbied sodat leerders op onderrig kan fokus en “teen ongerymhede op sosiale netwerke” beskerm word.

“Selfone lei leerders se aandag af en verwoes die onderrig-milieu,” het Matakanye Matakanye, sekretaris van die NVS, gesê.

“Die goed wat kinders op so­siale netwerke in die hande kry, is verskriklik. Dit besoedel hul gedagtes en verhinder hulle om te leer.

“Dit help nie om aan kinders te sê hulle mag die fone skool toe bring, maar hulle mag dit nie aanskakel nie.”

Nuwe beheerliggame vir skole is einde Maart verkies. Hulle ontvang opleiding tussen April en Junie en sal vir die volgende drie jaar op die beheerliggaam dien.

Volgens Matakanye móét nuwe beheerliggame beleid oor selfone as ’n prioriteit hersien. “Kinders kan selfone eerder ná skool of gedurende naweke onder hul ouers se toesig gebruik.”

Ander beheerliggaamverenigings stem egter nie saam nie.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê dit is fisiek onmoontlik om selfone in skole te verbied.

“Onderwysers moet net seker maak dat dit nie vir die verkeerde redes gebruik word nie.

“Dit help nie om die simptoom te behandel en die foon te probeer wegvat nie. Dit gaan oor morele optrede. Ons moet kinders eerder leer om nie ’n selfoon te gebruik wanneer hulle nié mag nie,” het Colditz gesê.

Volgens hom gaan tegnologie voortdurend ontwikkel en moet dit eerder vir skeppende of navorsingsdoeleindes aangewend word.

Tim Gordon, uitvoerende hoof van die Beheerliggaamstigting, het gesê dit is selfsugtig om selfone heeltemal by skole te verbied. Volgens hom is dit ’n baie belangrike instrument wat veiligheid verseker en help om kommunikasie tussen ouers en kinders te bevorder.

“Dink maar net daaraan as ’n kind op ’n trein ry en daar klim ’n klomp skobbejakke op die trein.”

- Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
HAVE YOUR SAY Suggest future poll
Festive season shopping
Where will you be shopping this festive season?
Shopping malls
Online
I'm broke!
Festive shopping is a waste of money!
top
bottom