googletag.pubads().enableSyncRendering(); googletag.pubads().enableSingleRequest(); googletag.enableServices(); TygerBurger - Dokumentêre reeks op Atlantis verfilm
Saturday 25 October 2014
News / Goodwood / Dokumentêre reeks op Atlantis verfilm

’n Dokumentêre reeks wat moontlik deur die BBC uitgesaai gaan word, word tans in Atlantis verfilm.

Die reeks – waaraan reeds langer as ’n jaar gewerk word – word deur Marnette Meyer, haar dogter, Jacky Crawford, en die kameraman Herman van Deventer vervaardig.

Daar word gekyk na die goeie en slegte eienskappe asook die hoogtepunte en laagtepunte van dié Weskusdorp, het Meyer gesê.

Meyer, wat gereeld dokumentêre en TV-programme vir die Urban Brew-ateljee vervaardig, het gesê sodra die reeks voltooi is, sal dit aan die BBC voorgelê word.

Indien die SAUK belang stel, sal hulle dit aan die openbare uitsaaier ook verkoop, het sy gesê.

Meyer, ’n marathonatleet, het onlangs aan ’n byeenkoms op ’n atletiekbaan op Atlantis deelgeneem waar sy sommige van die omgewing se jong mense ontmoet het.

“Baie van die kinders het die potensiaal om Springbokke te word,” het sy gesê.

Die groot euwel waarmee baie van die dorp se inwoners egter worstel, is dwelms en drankmisbruik, het sy gesê. “Daar is ook dié wat dit bestry, en dis alles deel van die dokumentêr.”

Die span het met behulp van sekere gemeenskapslede ’n koskombuis, Mama Sop, op die been gebring waar minstens 700 kinders weekliks gevoed word.

Langsaan is ’n vraghouer waar mense opgelei word om klere te maak. Daar is ook ’n kamer waar berading aan verkragtingslagoffers gebied word.

Meyer en haar span werk ten nouste saam met die gebied se wyksraadslid, Barbara Ras.

Vir die dokumentêr het sy en haar span – met versteekte kameras – nagklubs en plekke besoek waar dwelms aan jong mense verkoop word en waar prostitute rondhang.

“Baie mense het gevra of ons nie vir ons lewe vrees nie, maar sodra jy in die gebied is, vergeet jy van jou vrese.

“Soms kan ’n mens die dinge wat jy sien nie glo nie.”

Die groep was al by toe daar oor en weer in die gebied geskiet is.

“Daar is ’n groot leemte hier en nie genoeg hande om te help nie,” het Meyer gesê.

Vir die dokumentêr se doeleindes het die span ’n groep akteurs in die gebied bymekaar gekry om sommige van die misdaadvoorvalle uit te beeld.

Hulle beplan om oor ’n maand die moord op twee broers en ’n ma en babadogter na te maak, het sy gesê. “Dis sulke dinge wat ons met verloop van tyd opneem en verfilm.”

Ander euwels wat hier gereeld kop uitsteek, is tienermeisies wat hul babas verwaarloos.

“Elke dag is daar ’n verkragting of ’n moord,” het Meyer gesê.

Altesaam 13 episodes word verfilm.

’n Soortgelyke projek word vir Elsiesrivier beplan.

- Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom