googletag.pubads().enableSyncRendering(); googletag.pubads().enableSingleRequest(); googletag.enableServices(); TygerBurger - PET-CT ‘iets om op trots te wees’
Sunday 26 October 2014
News / Kraaifontein / PET-CT ‘iets om op trots te wees’

Een van die beste instrumente ter wêreld om kanker mee te diagnoseer, is gister deur die Wes-Kaap se drie akademiese hospitale in gebruik geneem.

Dié PET-CT-skandeerder van R15,6 miljoen is die eerste een in die staatsektor in die provinsie en is deur NTP Radioisotopes (deel van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie) geskenk.

Die nuwe sentrum by die Tygerberg-hospitaal waar die instrument gehuisves word, is teen ’n koste van R14,75 miljoen deur die provinsie gebou.

Dit kom ná jare van harde werk onder leiding van prof. Annare Ellmann, hoof van die eenheid vir kerngeneeskunde aan dié hospitaal en die Universiteit Stellenbosch. Sy het gesê hulle het onlangs die eerste pasiënt, me. Karin van der Ster van Belhar, met die nuwe instrument geskandeer.

Benewens die opsporing van kanker, kan die instrument ook gebruik word om hartspiere te ondersoek en navorsing oor veral infeksies te doen.

“Ek belowe vandag aan die mense van die provinsie ons sal aan hulle ’n diens lewer waarop hulle trots sal wees. En ons sal die beste navorsing doen,” het Ellmann gesê.

Sy is gelukgewens deur niemand anders nie as “Marie Curie” (die aktrise Bev Cooke-Tonnesen), wat “met ’n tydmasjien uit die verlede” in Kaapstad opgedaag het.

Curie is in 1934 aan kanker dood nadat sy aan radioaktiwiteit blootgestel is tydens haar en haar man, Pierre, se deurbraakwerk in dié veld.

“Curie”, wat deur NTP Radioisotopes na die geleentheid gebring is, het die gaste heelwat vermaak besorg.

“My kook- en notaboeke wat in ’n biblioteek in Frankryk gehou word, is ná 90 jaar nog radioaktief, omdat alles waaraan ek gevat het radioaktief geword het,” het sy gesê.

“Dit word in ’n loodkis gehou en as jy daardeur wil blaai, moet jy handskoene aantrek en ’n vrywaringsvorm teken.

“Ek kon nie kook nie. Ek het bloot die kos op die kookboek gesit en dan het dit self gekook weens die bestraling. Voilà!” het “Curie” gesê.

Mnr. Theuns Botha, provinsiale minister van gesondheid, het gesê die Wes-Kaap se 600 gesondheidsgeriewe hanteer tot 17 miljoen pasiëntbesoeke per jaar, die meeste per capita- besoeke in die land.

- Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE

top
bottom