googletag.pubads().enableSyncRendering(); googletag.pubads().enableSingleRequest(); googletag.enableServices(); TygerBurger - Sterk wind skrik nie vlieënier af
Sunday 23 November 2014
News / Table View / Sterk wind skrik nie vlieënier af

Dit bly onverklaarbaar dat die vlieënier van die warmlugballon wat Saterdag neergestort het ondanks ’n sterk wind opgestyg het.

Ander ballonmaatskappye het juis vlugte weens die wind gekanselleer.

Drie vroue – mes. Marié Jacobs (50), hoof van Afrikaans aan die St. Stithians-kollege in Johannesburg, Louise Vorster (57) en Sanet Koster (50), albei van Melkbosstrand, is beseer toe die ballon op die plaas Nooitgedacht neergestort het.

Mnr. Justin Fowler was die vlieënier. Hy is glo nie beseer nie. Die beseerdes is deur die ER24-ambulansdienste na die Mediclinic Stellenbosch gebring.

Mnr. Werner Wirth (32), eienaar van Nooitgedacht, het gesê die lugballon het omstreeks 07:30 op sy plaas neergestort.

Fowler het op die toneel aan die plaaseienaar gesê dié ongeluk gaan hom bankrot maak. Na verneem word, werk Fowler vir homself.

Die viertal het glo by Klein Joostenbergvlakte buite Kraaifontein opgestyg. Hulle sou in Stellenbosch land en van daar terugkeer na Klein Joostenbergvlakte. Volgens Wirth het Fowler gesê dat hy op een van Wirth se landerye wou land.

“Hy het toe gesien daar is wingerdpale geplant en het meer warm lug ingelaat om op ’n ander landery te land.”

Wirth het gesê volgens die vlieënier het wind die mandjie geskep en hulle in die kragdrade vasgewaai. Daar het toe ’n kortsluiting ontstaan, wat ’n brand veroorsaak het. Die toue van die kabels het gebrand en die mandjie het neergestort.

Die Burger het van dr. Wynand Uys, voorsitter van die Kommersiële Ballonoperateursvereniging van Suid-Afrika, verneem ’n ander onderneming, Winelands Ballooning, het Saterdag weens die weersomstandighede sy vlugte gekanselleer.

Mnr. Carlton Fillies, ’n weerkundige by die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Kaapstad, het gesê hulle het geen windmeters in die Stellenbosch-omgewing nie. As hy die windsterkte by die lughawe in ag moet neem, sou die wind in Stellenbosch tussen 30km/h en 45 km/h gewaai het.

“’n Mens moet ook in ag neem daar is berge wat baie rukwinde kon veroorsaak en daar is ook weerlig voorspel.”

Uys het gister gesê Fowler is nie by hulle geregistreer nie. Operateurs wat kommersieel vlieg, moet geregistreer wees.

Volgens Uys kan enige mens met ’n lisensie privaat ritte onderneem, maar hulle mag nie geld aanvaar nie. ’n Vlieënier mag slegs geld as betaling aanvaar as hy vir ’n kommersiële onderneming werk. Dit is nie bekend of die vroue Fowler betaal het nie.

Me. Carla Hanekom, woordvoerder van MediClinic Stellenbosch, het Saterdag gesê Koster en Vorster is albei vir hul beserings geopereer.

Koster het ’n regtervoetbreuk en Vorster het verskeie beenbreuke in haar gesig en bekken. Al twee se toestande was gister stabiel. Jacobs is nie ernstig beseer nie en is nie in die hospitaal opgeneem nie.

Me. Phindiwe Gwebu, Burgerlugvaart-woordvoerder, het gesê die ongeluk word ondersoek.

- Die Burger

  COMMENTS 
 
top
OUR LATEST ISSUE & BACK COPIES

top
bottom